Nuwe Kleuter Inligting
Koste vir 2026
By Speelhoekie wil ons registrasie maklik en deursigtig hou. Die eenmalige inskrywingsfooi beloop R1 500 per kleuter en moet betaal word by registrasie om jou plek te bevestig.
Daar is twee opsies vir die maandelikse deelname:
Per kwartaal: R7 100 per kwartaal
Per maand: R2 500 per maand (12 maande van die jaar)
Vir gesinne met meer as een kind wat gelyktydig by Speelhoekie is, bied ons 10% afslag vir die tweede kind.
Indien jou kleuter in die middel van ‘n kwartaal begin of vertrek, word die koste pro-rata bereken. Ons vra ook een kalendermaand kennis indien jy besluit om jou kind te laat ophou, maar November en Desember kan nie as kennismaande gebruik word nie.
Registrasie word slegs gewaarborg nadat die vorms en inskrywingsfooi ontvang is.
Eerste Dag by Speelhoekie
Die eerste dag by Speelhoekie is opwindend, maar dit kan ook vir jou kleuter en vir jou ‘n bietjie stresvol wees. Ons wil dit so maklik en rustig moontlik maak.
Voorbereiding voor die groot dag:
Praat gereeld met jou kleuter oor wat gaan gebeur. Wys hom of haar die kosblik en tas, en vertel van al die nuwe maatjies en aktiwiteite. As julle dit kan doen, kom een of twee keer net vir 15–20 minute kuier voor die eerste dag. Dit help jou kind om gewoond te raak aan die juffrou en die omgewing. Merk alle items duidelik en maak seker dat alle vorms en betalings voltooi is.
Op die dag self:
Pak alles wat jou kleuter nodig mag hê, insluitend ‘n troos-voorwerp indien dit help. Word vroeg genoeg wakker om die oggend rustig te hou. Gesels rustig oor wat hulle kan verwag. By aankoms laat jou kleuter self instap en sy/haar tas in die rak sit. Sê hallo, gee ‘n drukkie en soentjie, en laat hulle saam met die ander begin speel.
Baie kleuters huil die eerste paar minute, en dit is heel normaal. Ons personeel sal jou kleuter ondersteun en help om gemaklik te voel. Ons stuur ook gereeld opdaterings via WhatsApp om ouers op hoogte te hou.
Rutine en aflaai:
Skep van die begin af ‘n goeie aflaai-roetine en bly kort by die vertrek. Die eerste week vra ons dat jy jou kleuter voor die ander kleuters kom haal, sodat hulle nie bekommerd raak nie (bv. eerste dag 11:45, tweede dag 11:50, derde dag 11:55).
Laat weet ons asseblief van enige bekommernisse. Meestal is dit net soveel vir ouers as vir kleuters! Ons doel is dat jou kind die oggend geniet en vol selfvertroue saam met maatjies speel.
Benodighede vir Speelhoekie
Om jou kleuter se eerste dag en elke dag by Speelhoekie glad te laat verloop, volg hier ‘n oorsig van alles wat ingepak moet word.
Elke jaar
By die begin van die jaar benodig elke kleuter:
Voltooide inskrywingsvorm
Sonhoed – elke kleuter kry ‘n breëband-sonhoed met hul naam geborduur
Sonbrandroom – bly in die klas vir die jaar en gaan Desember huistoe
A4 “Flip File” – met ‘n onlangse foto van jou kind op die voorblad, wat gedurende die jaar vervang kan word
Elke dag / Eerste dag
Elke dag by Speelhoekie moet jou kleuter die volgende hê:
Genoeg doeke en skoon onderklere vir die dag
Wet wipes
Kosblik: vrugte, proteïen en stysel (geen lekkers nie)
Drinkbottel: water of verdunde vrugtesap
‘n Ekstra stel skoon klere
Trui of baadjie vir kouer dae
Troos-voorwerp indien dit jou kleuter help om gemaklik te voel
Klere en skoene:
Merk alles duidelik
Trek ou klere aan wat gemors kan kry
Skoene met velcro en broeke met rekke werk die beste
Dogtertjies wat rokkies dra, dra kortbroek of “ski-pants” onder
Gesonde kos:
Minstens 1 vrug, 1 porsie proteïen, en 1 porsie lae-GI stysel
Vermy versoete joghurt en lekkers
Belangrik:
Kleuters moet nie speelgoed of waardevolle items bring nie, behalwe vir spesiale troos-items.
Ons voorsien lepels, vurke en alles nodig vir teetyd.
