Die eerste dag by ‘n speelgroepie of kleuterskool is ‘n groot dag vir jou en jou kleuter. Dis baie opwindend maar kan ook skrikwekkend wees. Hier is ‘n paar idees om die dag makliker te maak:

 School_Bag1

Begin voor die tyd al jou kleuter voorberei:

  •  Sorg dat hy weet hoe sy kosblik en sak lyk, en wys vir hom wat jy inpak vir teetyd.
  • Noem gereeld dat hy binnekort baie maatjies gaan hê om mee te speel, maar moenie dat hy sien as jy senuweeagtig is nie.
  • Kom kuier een of twee keer voor die groot dag, net vir so 15 of 20 minute. Dan kan hy gewoond kan raak aan die juffrou en aan die omgewing, terwyl jy by is.
  • Merk alles goed.
  • Sorg dat alle vorms en betalings uitgesorteer is, dat jy nie die eerste oggend lank hoef te bly nie.

 

Op die eerste dag:

  •  Maak seker dat jy alles ingepak het wat hulle kan nodig kry. As daar ‘n spesiale troos-voorwerp (soos ‘n kombersie of speelding is) pak dit ook in. Laat hom help pak.
  • Word vroeg genoeg wakker dat julle alles rustig kan doen. Dit maak nie saak as julle ‘n paar minute laat is nie, sorg liewer dat dit ‘n lekker oggend is, sonder te veel spanning.
  • Gesels rustig oor die dag wat voorlê.
  • Wanneer julle by Speelhoekie aankom, laat jou kleuter self in stap – moet hom nie dra nie.
  • Stap in, laat hy self sy sakkie in sy rak sit, sê “Totsiens, Mamma sal jou sien nadat julle legkaarte gebou het, Mamma is lief vir jou.” gee ‘n soentjie en drukkie en stap uit. Hoe langer jy bly, hoe groter is die kans dat hy ongelukkig kan raak.
  • As jou kleuter huil, moenie terug gaan of omkyk nie. Baie kleuters huil – gewoonlik tot die oomblik dat hulle nie meer hulle Mamma of Pappa kan sien nie en speel dan die res van die oggend heerlik. Hulle moet op ‘n manier vir Mamma laat weet dat hulle haar gaan mis en meeste kleuters het nog nie die woordeskat om dit te doen nie, of verstaan self nog nie mooi die gevoel wat hulle kry nie. Ek laat nooit ‘n kleuter net huil nie. Ek sal my bes probeer om hulle gelukkig te hou en as daar weer trane is deur die loop van die dag, sal ek bel. Ek sal ook die eerste paar dae WhatsApp’s stuur om jou op hoogte te hou.
  • Dis baie belangrik om van die begin af ‘n goeie roetine te skep met die aflaai en nie in die oggende te kuier nie. Gewoonlik is daar tyd in die middag om met ons te gesels en ‘n boodskap deur die loop van die dag is altyd welkom. Probeer ook baie hard om die eerste paar weke nie ‘n speelgroepie dag oor te slaan nie.
  • Kom kry asseblief jou kleuter voor die ander kleuters vir die eerste week. Byvoorbeeld: 1ste dag – 11:45, 2de dag 11:50, 3de dag 11:55. Kleuters kan bekommerd raak as hulle sien ander kinders word opgelaai en hulle nie.
  • Laat my asseblief weet as daar ENIGE iets is wat jou bekommer. Dis meeste van die tyd is dit baie erger vir ‘n Ma om haar kleuter af te laai, as vir die kleuter wat heel oggend lekker met maatjies kan speel.